Navorsing ivm hierdie werkie het in 1981 begin met die versending van vraelyste aan al die Franzsens wat in beskikbare telefoongidse gelys was. Dit is daarna op deeltydse basis voortgesit tot op hede, behalwe vir ongeveer vyf jaar (1988 - 1993) wat die skrywer in Pretoria deurgebring het. Dit het onder andere ‘n besoek aan die Staatsargief in Stavanger in 1984 en verskeie ander argiewe sedertdien (veral in die laaste vyf jaar) ingesluit. Uiteraard is mens vir ‘n onderneming soos diè afhanklik van die medewerking van baie mense. Onderhoude met bejaarde Franzsens, hulp van argiefpersoneel, beskikbaarstelling van persoonlike dokumente en aanmoediging van belangstellende partye is maar enkele van die onontbeerlike voorvereistes vir sukses! Daarom my opregte dank aan almal wat op een of ander wyse ‘n bydrae gelewer het om hierdie geskrif moontlik te maak. Sekere persone se name kan nie ongenoemd gelaat word nie. Trudie Franzsen, eggenote van Andrè Franzsen van Glentana en Marianne Lloyd, ‘n Franzsen-nasaat van Outeniqua-strand, asook Olga Jordaan van Botrivier, ‘n nasaat van Ingeborg Franzsen het belangrik e inligting beskikbaar gestel. Frances Franzsen, van Huis Davidtz in Pretoria het ‘n groot bydrae gelewer oor die Franzsen-vroue asook die Vrystaatse Franzsens. Mnr Thys Potgieter van Newton Park, Port Elizabeth, se bydrae oor Karen Franzsen was uiters belangrik. Die personeel van die museums in Knysna was baie behulpsaam en mnr Leon Endemann van die Genealogiese Instituut van SA en sy personeel in Stellenbosch het kundige leiding verskaf! Ek is ook baie dank verskuldig aan my seun, Gustav Hurter Franzsen, wat gehelp het om die publikasie rekenaarmatig aan te pas en op te stel. Baie groot dank kom my eggenote, Lulu toe, vir haar geduld en ondersteuning om hierdie taak afgehandel te kry. (Sy het oa baie ure saam met my in kerkhowe rondgeloop!) Ongelukkig moet ook gesê word dat die gegewens in bestaande genealogiese werke veel te wense oorlaat, ook diè van die RGN se jongste Genealogiese SA Geslagregisters! Mens kan nie anders as om te wonder hoe die navorsing gedoen is wat ten grondslag lê van diè werke nie! Daar word geensins aanspraak gemaak dat hierdie werkie sonder foute is nie. U word wel die versekering gegee dat feite wat hierin weergegee word, deeglik nagevors is. Kommentaar en kritiek word verwelkom, veral as dit daartoe kan meewerk om die werk te verbeter. Ek vertrou dat u die inligting leersaam en insiggewend sal vind! Pieter Franzsen Gouritsmond November 1998 Enige addisionele, relevante inligting en/of kommentaar, kan aan Gustav Franzsen by Posbus 12735, Die Boord, 7613, of per e-pos aan kwaailight@gmail.com gestuur word. |