Frans Kristoffersen (Fransen) gebore in 1748 in Askeland, trou met Marta Pedersen (1748-1825). Hulle was boere en het 10 kinders gehad, onder andere ‘n seun, Lars (1774-1855). Lars, gebore 1774 in Askeland is in 1795 getroud met Kari Jensen ook gebore in 1774. Hul oudste seun, Frans (1796-1877), trou in 1818 met Siri Olsen van Tysvaer. Uit hierdie huwelik word ook 10 kinders gebore van wie die tweede , ‘n seun, Ole (1822- ) en die vierde ook ‘n seun, Lars (1825-1910) is.

Dit is ‘n paar van laasgenoemde twee broers se kinders wat uiteindelik in Suid-Afrika
beland het.

Die Voorvaders van die Franzsens in Suid-Afrika
Bogenoemde Lars Franzsen (1825-1910) is op 5 Oktober 1845 te Tysvaer getroud met Malene Johannessen van Haukas, die tweede dogter van Johannes Danielsen Johannessen (1780-1853) en Ingeborg Jokumsen van Svero (1792-1874). In 1858 het die gesin na Stavanger verhuis. Lars was ‘n “gardbrukar”, timmerman en rentenier. Uit hulle huwelik is vier kinders gebore, nl.:

 Johannes geb. 24-02-1850 in Tysvaer
 Karen Serine geb. 1851 in Tysvaer
 Frantz geb. 22-03-1854 in Tysvaer
 Ingeborg geb. 31-07-1858 in Stavanger

Al vier hierdie kinders het uiteindelik in Suid-Afrika beland!

Die bogenoemde Ole Franzsen (geb 1822) trou in 1844 met Brita Johannessen (geb 1816), oudste dogter van Johannes Danielsen Johannessen (1780-1853) en Ingeborg Jokumsen (1792-1874) . Die twee broers trou dus met twee susters! Uit hulle huwelik word onder andere in 1849 ‘n seun, Johannes Olsen, gebore. Hy trou op 28 Oktober 1875 in St Petri, Stavanger, met Anne Serine Thilo (1857-1914), dogter van Peder Christoffersen Thilo. Uit hierdie huwelik word die volgende kinders gebore:

 Olaf Ferdinand geb. 15-07-1876 in Stavanger
 Bertha Marie geb. 02-09-1878 in Stavanger
 Bertha Christofa geb. 23-02-1881 in Stavanger
 Annie Serine geb. 18-07-1888 in Knysna
 Charles Johannes geb. 23-04-1892 in Knysna

Johannes Olsen, Anne Serine en hulle kinders beland uiteindelik ook in Suid-Afrika!