Die amper-kliniese, feitelike inligting vervat in hierdie boekie omtrent die Franzsens, gee nie die volle prentjie van watter soort mense hulle is/was nie. Daarom die gedagte om staaltjies wat vertel word van hulle, ook hier weer te gee. Ek sou graag veel meer daarvan wou insluit, want ek is seker daar is baie van hulle, maar kon ongelukkig net die volgende bymekaarskraap. Laat weet asseblief van enige ander staaltjies wat hier ingesluit kan word.

Johannes se kookuns:
Soos vermeld, het Johannes Franzsen as 19-jarige aanboord van die Albatros as kok opgetree. Die familie het altyd gewonder hoe dit met die arme bemanning gegaan het as dit etenstyd geword het, want ter lande was hy (sogenaamd ?) nie eers in staat om ‘n koppie tee te maak nie!

Petrus se winskopies:
Petrus (eerste SA-gebore Franzsen) was ‘n vendusie-verslaafde. Hy kon geen vendusie weerstaan nie en het, na elke vendusie wat hy bygewoon het, tuis met sy wonderlike winskopies kom spog. Daarna is die sogenaamde winskopies netjies in die solder gepak en nooit weer na gekyk, of gebruik nie!

Petrus se Jagters-reëls:
Petrus Franzsen (voorgenoemde) het gereeld valke, wat sy hoenders gevang het, geskiet. Hy het egter verseg om op ‘n valk wat sit, te skiet. Iemand moes altyd die valk gaan opjaag voordat Petrus losgebrand het. “Die valk moet mos darem ook ‘n kans hê”, was sy kommentaar.

Petrus se filosofie oor taalkennis:
Petrus het almal met wie hy te doen gehad het, aangemoedig om meer as een taal aan te leer. Hy kon self baie goed Engels praat (was selfs by sommige mense bekend as die Engelsman – enersyds omdat sy pa ‘n “uitlander” was en andersyds oor sy vermoë om Engels te praat) en het geglo in die spreekwoord : “Soveel tale as ek kan praat, soveel male is ek man”.

John Franzsen se dagboeke:
Daar is ‘n “soetkysie” vol dagboeke van John Franzsen. Hy het elke dag gebeure en gedagtes opgeteken op klein dagboekies en ander stukkies papier. Die resultaat is ‘n magdom, soms haas onleesbare, soms skuins oor die bladsy geskrewe, familie-gebeure en lewenswyshede. Daar is beslis baie in hierdie “soetkysie”, vir iemand wat die vermoë, tyd en geduld het om dit te ontsyfer!

John se taalvermoë:
Van al die SA-gebore Franzsens, was John die een wat die moeite gedoen het om die Noorweegse taal te bemeester en te gebruik