Die Franzsens het deur die jare heen en tot vandag toe ‘n beduidende rol gespeel op verskillende terreine in die Suid-Afrikaanse samelewing.

Bestuurders en Sakemanne
Naas diè wat reeds genoem is, was daar ook nog verskeie ander Franzsens wat as sakemanne en bestuurders gepresteer het. Johannes Leonard Scholtz Franzsen (1883-1970) was verskeie jare verteenwoordiger van verskeie maatskappye en stigterslid van die Stellenbosche Kamer van Koophandel. Salmon Herder Franzsen (1912-1983) het verskeie jare Thesen se besigheid (houtvervoer, winkel en brandstofdepot) te Templemanstasie in die Grootbos, naby Diepwalle bestuur en daarna sy eie besigheid in Knysna (winkel) en in Humansdorp (droogskoonmakery) gehad. Frithjof Johan Franzsen (geb 06.10.1917) was streekbestuurder van Mobil te Port Elizabeth en Mosselbaai vir baie jare en daarna kleinhandelsbestuurder vir Mobil, Weskaap 10 jaar. Sy seun, Peter Derek Franzsen (geb. 06.04.1949), is bestuurder van Hyundai in Kaapstad. ‘n Ander
bestuurder is Valdimar Theodore Franzsen (geb. 11.09.1928), tans ‘n bestuurder in Australië. Daarby is daar ook bankbestuurders soos Jan Blignault Franzsen (geb 07.03.1925) en Peet Franzsen (geb 19.07.1946).

Professionele Beroepe
Onder die Franzsens was daar ook ‘n groot aantal wat hulle vir een of ander professie bekwaam het, onder andere geneesheer, bv Carl Frederick (geb. 12.02.1921). John Dunn Franzsen (geb. 13.07.44) het die ingenieursberoep gekies, soos Victor Franzsen en Andrè Franzsen (geb. 17.04.55), en Johann Franzsen (geb 16.01.54) was ‘n navorser met Meestersgraad in die Ekonomie; Petrus Jacobus Johannes Franzsen (geb 15.09.33) het predikant geword en verskeie manne en vroue het hulle as onderwysers (-esse) bekwaam: Martha Constance Franzsen (geb. 19.07.1876), Petronella Maria Franzsen (geb 28.05.1905), Frank Malan Franzsen (geb 29.06.1914), Elizabeth Franzsen (geb16.04.1916), Andries Petrus Franzsen (geb 18.01.1917), Johan Franzsen (geb.12.08.1936), Hendrik Engenatius Franzsen (geb. 19.08.37), Ina Franzsen (geb 10.11.1944). Ilse Franzsen (geb. 02.01.52)Sinta Franzsen (geb. 23.01.60), Martlie Franzsen (geb. 19.08.1961).

Daar was ook maatskaplike werkers, bv Cornelia Immalina Franzsen (geb 20.03.1935) en Ingeborg Franzsen (geb 01.01.1967); lektore/professore soos reeds genoemde Frank Malan Franzsen (onderwyser wat later prof aan Unisa geword het) en Daniël Gerhardus Franzsen (geb 10.04 1918), professor in Ekonomie, wat later die eerste Senior Vise-president van die Reserwebank geword het.

Verder was daar argitekte soos Lars Franzsen (geb. 11.03.54), landmeters soos Andre Franzsen (geb. 03.12.1920), geoloë soos Alan James Franzsen (geb 21.09.1952), en regsgeleerdes soos Riël Franzsen (geb. 08.04.59), nou professor en Hendrik Engenatius Franzsen (geb. 24.12.1965).

Die seevaart op doek!
Die kunste het ook ‘n kwota Franzsens opgelewer soos die een stamvader, Johannes. Johannes het as 19-jarige tydens die seevaart uit Stavanger na Kaapstad en Knysna saam met die Thesens op die Albatros, sketse gemaak van die skip by hulle vertrek uit die stamland, die laaste gesig van die vaderland, die eerste gesig van Suid-Afrika (Tafelberg en die Twaalf Apostels), die Albatros in Tafelbaai, die Albatros in die hawe van Tafelbaai, die Albatros tussen die koppe by Knysna en die Albatros vasgemeer aan die kaai by Knysna. Hierdie sketse het hy in 1915 in olieverf-skilderye verwerk wat later deur die Thesens bekom is en vir jare in hulle raadskamer te Knysna gehang het saam met ‘n selfportret van Johannes. Tans is die Albatros-skilderye te sien in die Museum in die ou tronk in Knysna maar die selfportret is verlore! Benewens bg het hy ook verskeie ander skilderye gemaak: Mnr Thys Potgieter van Port Elizabeth, het twee skilderye van die Franciska en die Hettie wat hy geskilder het en mev. Marianne Lloyd van Glentana het ‘n selfportret en ‘n
skildery van die Albatros deur hom geskilder!


Johannes se skilderye

Een van sy nasate, Ingrid Elmarie Franzsen, het ‘n diploma (met lof) aan die Ruth Prowse kunsskool verwerf in 1984 en het na haar eerste uitstalling gunstige kritiek in die pers ontvang. Sy is ook verantwoordelik vir verskeie beeldhouwerke aan geboue in Century City, Canal Walk, Ratanga Junction en by die Grand West Casino, in Kaapstad.

Ambagsmanne
Soos die voorsate in Noorweë, was daar ook verskeie boere en skrynwerkers en ander ambagsmanne in Suid-Afrika. Piet Franzsen was ‘n kundige wamaker en het ‘n groot aandeel gehad aan die ossewa genaamd Vrou en Moeder wat gedurende die simboliese ossewatrek van 1938 deur PJ van Reenen geskenk is. Daniël Franzsen was, soos sy vader voor hom, voorman by van Reenen se houtfabriek te Rheenendal. Koos Franzsen was ‘n baie kundige tegnikus by die Dept Pos en Telegraafwese. Adam Franzsen was ‘n passer en draaier wat toegesien het dat die houtfabriek van Van Reenen se masjinerie diensbaar bly.


Daniël Franzsen en Marie, sy suster