Johannes Franzsen het nà sy konfirmasie in Stavanger ‘n handelsbetrekking in Haugesund aanvaar. Hy het kennis gemaak met die kaptein van die Thesens se skip, die Albatros, en so het dit gekom dat hy saam met die Thesens op die Albatros beland het op pad na Nieu Seeland. Soos reeds vertel is, het hy uiteindelik saam met die Thesens in Knysna beland.

Johannes en Ragnvald Thesen het blykbaar op die seereis en die kusvaarte daarna hegte vriende geword met die gevolg dat Johannes Franzsen by die Thesens aangebly het as klerk in hulle nuwe besigheid. Hy en drie van die Thesen-seuns het aanvanklik betrokke geraak by die diamant delwery in Kimberley en die latere Delportshoop. Dit het egter nie lank geduur nie en toe het hy en Ragnvald Thesen saam ‘n besigheid begin te Suurvlakte (die huidige Rheenendal). Die gevolg is dat mens in die balansstaat van Thesen en Kie van 31 Desember 1872 die volgende inskrywing onder “assets” vind:

Interest in Thesen & Franzsen £420!

Dit was ook hier, op Suurvlakte, waar Johannes kennis gemaak het met ‘n beeldskone jong Afrikaner-meisie, Petronella Johanna Zeelie. Volgens oorlewering was Petronella se ouers egter nie gediend met die “uitlander” se belangstelling in hul dogter nie. Dit het nietemin nie verhoed dat die twee jongmense mekaar steeds ontmoet het nie en uit die verhouding is op 20 Junie 1874 ‘n seun gebore. Ongelukkig het die moeder by die geboorte van die seuntjie gesterf en is hy deur sy grootouers, Ernst Johannes Zeelie en Petronella Johanna van Wyngaard, opgevoed met geld voorsien deur Johannes. Hierdie seun, Petrus Jacobus Johannes Franzsen, is dan die eerste Suid
Afrikaans-gebore Franzsen!

In 1875 het Johannes die vennootskap met Ragnvald opgesê en op sy eie ‘n besigheid begin te Belvidere. Hy ontmoet Sarah Susanna Hildebrand en hulle word op 30 September 1875 te Knysna deur ds MC Botha van die NGK in die huwelik bevestig. Die bruid se vader, Pieter Hildebrand, was ‘n bekende boer van die omgewing (die plaas Eastford) en ouderling in die NGK, Knysna. As getuies by die huwelik teken Rolf Thesen en CA Thesen. Daar is 16 kinders uit die huwelik gebore.


Johannes Franzsen en Sarah

Die bruidegom se ouers het op daardie tydstip reeds in Tafelbaai aangekom uit Noorweë en sou die huweliksplegtigheid bywoon, maar eers toe die bruidspaar reeds op hulle wittebrood vertrek het (volgens ‘n berig in Het Volksblad van 18 Oktober 1875), het die skip, “Hettie”, met die ouers en die twee susters van die bruidegom in die hawe aangekom! Hulle het met die “Franciska” van Stavanger na Kaapstad gereis. Die Franciska was blykbaar te groot om deur die Koppe by Knysna te vaar, daarom het hulle die laaste skof met die “Hettie” afgelê, en diè moes ook agt dae wag om deur die Koppe te kom!

Die ouers en susters kuier die volgende paar maande by Johannes en sy broer, Frantz, wat hom intussen ook in Knysna gevestig het. Terwyl hulle in Belvidere gekuier het, gaan stap die moeder, Malene, op die plaas en word deur ‘n bees aangeval en doodgemaak op 27 September 1876. Sy word in Knysna begrawe en haar man, Lars, vertrek met die eerste geleentheid terug na Stavanger waar hy op 27 November 1878 in die Domkerk, Stavanger, weer in die huwelik tree met die weduwee Talette Larsdatter Rosland. Die twee susters bly egter in Knysna. Ingeborg trou met Johannes Gerhardus Schonken en Karen met Jacobus Johannes Wentzel.


Malene se graf

In ongeveer 1879 het Johannes ‘n plaas, wat hy Quarrywoods genoem het, van ‘n mnr Palmer gehuur. Johannes en sy broer, Frantz (Frank), het saam ‘n besigheid bedryf maar dinge het later skeef geloop en op 20 Mei 1886 is die besigheid gelikwideer. Johannes het weer van voor af begin. Hy en sy familie het op Modderhoek gaan bly (tans Bracken Hill) waar hy bestuurder was van Thesen se saagmeule. In 1891 word hy aangestel as bosboubeampte op Ysternek en later op Buffelsnek. Die kinders gaan toe skool te Kruisrivier, waar sy dogter Constance later onderwys gee.

Gedurende Maart 1897 het hy egter besluit om Knysna te verlaat en het hy alles wat hy bymekaar gemaak het op ‘n openbare veiling verkoop en na Kaapstad verhuis.Hy het hom gevestig in Rosmeadlaan 34, Tuine, Kaapstad, en het die huis 'Stavanger' genoem.

Hier het hy oa as agent vir sy kleinneef, Olaf Ferdinand Franzsen, direkte invoerder en hout- en algemene handelaar van Knysna opgetree (Sien South African Who’s Who in Business,1917,1918, p660). Hy was ook betrokke by voorsiening van delwery-benodigdhede aan die diamantdelwers saam met ‘n sekere mnr. Delport, met wie hy tydens sy tydperk in Kimberley kennis gemaak het. Hy is in Kaapstad oorlede op 15 Februarie 1918 en sy vrou, Sarah, wat haar laaste jare in ‘n rolstoel deurgebring het agv artritis, is op 30 April 1927 ook in Kaapstad oorlede.

Hulle is in die Woltemade begraafplaas (Maitland, Kaapstad) begrawe.


Johannes en Sara se graf
geneem deur Alta Griffiths