‘n Besondere sameloop van omstandighede het veroorsaak dat etlike Franzsens uit Stavanger in Noorweë uiteindelik in Suid-Afrika beland het. Een van die faktore wat daartoe aanleiding gegee het, was die sosio-ekonomiese omstandighede wat teen die laaste helfte van die negentiende eeu in Noorweë geheers het. Beter mediese dienste en gesonder lewenspatrone het daartoe gelei dat daar ‘n bevolkingsontploffing in die Nordiese lande plaasgevind het. Omdat Noorweë se industriële ontwikkeling nie tred gehou het met sy buurlande, Brittanje en Swede nie, was daar ook nie genoeg werkgeleenthede nie. Daarby het politieke verwikkelinge soos die opkoms van nasionalisme en gevolglike ongelukkigheid met die Sweedse oorheersing tot gevolg gehad dat baie Nore emigrasie oorweeg het.

Hierdie omstandighede het daartoe meegewerk dat die Thesens se ysterware-besigheid in Stavanger noustrop begin trek het. Die Thesens het veral gespesialiseer in besondere soorte gereedskap en het later ook betrokke geraak by skeepsvervoer en die invoer van allerlei produkte. Uiteindelik het die maatskappy, A.L. Thesen en Kie, ook geswig voor die ekonomiese omstandighede.

Arnt Leonard Thesen het besluit dat daar geen toekoms in Stavanger is nie en het be-oog om na Nieu Seeland te emigreer. Hy en sy broer, Mathias Thesen het besluit om een van hulle skepe, die skoener Albatros, wat in Baltimore (VSA) gebou is, te neem en dit vol hout te laai en met hulle hele familie na Nieu Seeland te vertrek.

Op 20 Julie 1869 verlaat die Albatros die Noorweegse hawe, Stavanger, met Arnt Leonard Thesen , sy vrou en 8 van sy 9 kinders; Mathias en sy seun, Hans; ‘n bemanning bestaande uit die bootsmaat, Knud Thomasen (vergesel van sy vrou), ‘n jongman, die 19-jarige Johannes Franzsen, wat aanbied om as kok op te tree en drie ander seemanne.


Die Albatros in Tafelbaai (deur Johannes Franzsen)

In Plymouth, Engeland, neem hulle Ragnvald Thesen, seun van Arnt, aan boord en vaar na Kaapstad waar hulle 78 dae later, op 16 November 1869, aankom. Nadat die nodige proviand aanboord geneem is, vertrek hulle op 24 November op die volgende skof van hul vaart na Nieu Seeland. By Kaap Agulhas tref ‘n verskriklike storm hulle skip sodat hulle genoodsaak is om terug te draai na Kaapstad waar hulle op 30 November aankom.

Terug in Kaapstad is hulle verplig om eers weer middele te bekom om voorrade aan te koop en die skip weer seewaardig te maak. Die Sweeds/Noorweegse konsul, mnr Carl Gustaf Ackerberg, en sy familie verleen die nodige ondersteuning aan die gestrandes en raai hulle aan om eers voorrade vanaf Kaapstad langs die kus na Knysna te vervoer om sodoende geld bymekaar te maak om hulle vaart na Nieu Seeland voort te sit.

Die gevolg is dat die skeepskaptein, Mathias Thesen en deel van die bemanning, waarby Johannes Franzsen ingesluit was, verskeie vaarte vanaf Kaapstad na Knysna onderneem. Die res van die Thesen-familie en die ander bemanningslede het intussen in Kaapstad agtergebly. Knysna maak so ‘n indruk op die Thesens (veral op Hans wat ook daar ‘n meisie raakloop op wie hy verlief raak) dat hulle uiteindelik hul plan om na Nieu Seeland te emigreer laat vaar en in April 1870 hulle te Knysna vestig.

So beland die jongman, Johannes Franzsen, ook in Knysna en lei dit daartoe dat uiteindelik nie net sy broer, Frantz (bygenaamd Frank) nie, maar ook sy twee susters, Karen en Ingeborg en ‘n neef, Johannes Ohlsen, in Knysna eindig.