Dit is reeds vermeld dat Ingeborg Marie Franzsen (geb 31.07.1858) op 05.03.1880 deur ds MC Botha te Knysna in die huwelik bevestig is met Johannes Gerhardus Schonken. Sy het 14 kinders gehad en het op Goukamma gewoon waar sy ook begrawe is na haar dood op 30.09.1943. Toe die kuspad gebou is, het haar graf en ander familiegrafte in gedrang gekom en is hulle herbegrawe in die nuwe begraafplaas te Knysna.


Ingeborg Franzsen en haar man, Johannes Schonken

Karen Serine Franzsen (geb .1851) is op 05.07.1876 te Knysna deur ds MC Botha in die huwelik bevestig met Jacobus Johannes Wentzel. Hulle het 10 kinders gehad en het op Goukamma (blykbaar op die plaas Buffelsvermaak) gebly. Uit die sterfkennisse by die Genealogiese Instituut blyk dit dat Karen op 09.07.1904 te Buffelsvermaak, Knysna oorlede is. Van daar het die gesin na Mynhardtskraal getrek waarna hulle na Alexandrië verhuis het waar Koos Wentzel ongeveer 1927 oorlede is.


Karen Franzsen en haar man Koos Wentzel

Johannes Ohlsen Franzsen (geb 18 Januarie 1849 te Stavanger) was ‘n neef van Johannes Franzsen die eerste Noorweegse Franzsen wat na Suid-Afrika geëmigreer het, en het ongeveer 1885 na Suid-Afrika
gekom op versoek van die Thesens. Hy was ‘n kundige skeepsbouer en het, voor die ontdekking van goud te Millwood, die Thesens se saagmeule daar bestuur. Daarna het hy vir Thesens gewerk
in Knysna - miskien was dit sy invloed wat later tot gevolg gehad het dat die Thesens vermaarde skeepsbouers geword het!

Sy vrou en kinders het hom in 1887 na Suid-Afrika gevolg (hulle reiskoste was R102.50!)en sy oudste seun, Olaf Ferdinand Franzsen, het hom as leerling aan die Knysna Hoërskool onderskei en ook daarna as besigheidsman in Knysna. Hy is op 21.06.1918 te Knysna oorlede nadat sy vrou hom reeds vier jaar tevore, op 22.06.1914, ontval het. Sien Knysna Advertiser 25.06.1918. In die berig oor sy dood word oa gesê: “Mr Franzsen was of a very retiring and unassuming disposition, but was held in great esteem for his many sterling qualities”.


Graf van Johannes Ohlsen Franzsen en sy vrou

Olaf Ferdinand Franzsen was die oudste seun van Johannes Ohlsen Franzsen en het as twaalfjarige saam met sy moeder en susters na Knysna gekom waar hy verder studeer het aan die plaaslike skool en daar die bynaam “Veegee” verwerf het omdat hy so ‘n briljante student was. Na skool het hy ‘n jaar by die Millwood Goudvelde deurgebring en daarna by JH Templeman se besigheid begin werk. Daarna is hy aangestel as bestuurder van Thesen se Kontantwinkel, waar hy direk met mnr CW Thesen in aanraking gekom het, teenoor wie hy, in later jare, groot waardering uitgespreek het oor wat hy by hom geleer het.

Hy is in 1904 getroud met Agnes Young Scott (22.05.1879-02.08.1968), ‘n dogter van mnr James Young Scott, wat toe ‘n besigheid aan die Hoofweg bedryf het. Na die dood van sy skoonvader, het sy vrou die besigheid geërf en het Olaf sy eie besigheid met dié van sy skoonvader gekombineer. Hy word verskeie jare in die SA Who’s Who in Business genoem as handelaar in hout en invoerder (Sien SA Who’s Who 1916 p 525 en 1917/18 p 660).

Hy was verskeie jare lid van die Stadsraad van Knysna, lid van die Besigheidskamer en ‘n getroue en meelewende lid van die Wesleyaanse Kerk. Tsv die feit dat sy vrou twee keer ‘n seuntjie verwag het, het hy geen manlike nageslag nie. Hy is op 27 Januarie 1932 onverwags oorlede en is oorleef deur sy eggenote en hul dogter, Phemie (Euphemia, geb.27.07.1906, oorl. 03.08.1965), wat getroud was met Rev. AW John van George.