Aangesien die stamvaders se besonderhede redelik volledig weergegee is in die afdeling oor die geskiedenis, word dit nie hier herhaal nie. Petrus Herodus Hillebrand Franzsen Hy is op 06.10.1878 te Knysna gebore en het daar grootgeword. Weens omstandighede moes hy die skool verlaat voordat hy matriek kon maak. Hy het vir Thesens op Knysna gewerk en van 1897 in Kaapstad. Daar het hy verskeie vakke dmv aandklasse en korrespondensie gedoen, oa ook ‘n mediese kursus van die VSA. Hy is op 03.12.1903 te Rondebosch getroud met Anna Susanna Combrinck. In ongeveer 1907 is hy na Duits-Wes Afrika, waarheen die gesin hom later gevolg het. Magda, die derde dogter is op 29.08.1908 op Lüderitzbucht gebore. Na sy terugkeer aan die einde van 1909/begin 1910 was hy bestuurder van bosbou op Strawberryhill in die distrik van Heidelberg Kaap, tot 1915, toe hy die pos van bestuurder op die plaas Doringrivier van mnr Will Fullard aanvaar het. Later het hy na die dorp, Barrydale, verhuis. ![]() Petrus Herodus Franzsen met Magda Op Barrydale kon hy die kennis wat hy opgedoen het met die mediese kursus toepas aangesien die naaste dokter op Swellendam was. Tydens die groot griep epidemie van 1918 is hy, op die aanbeveling van die dokter op Swellendam, as gesondheidsbeampte op Barrydale aangestel. Slegs 13 persone het in daardie tyd op Barrydale aan griep gesterf. In Augustus 1920 het die gesin na Warden verhuis, waar hy weereens sy kennis van medisyne kon toepas om mense te help, aangesien die naaste dokter op Harrismith was. Hy is op 20.07.1955 te Warden oorlede. Johannes Leonard Scholtz Franzsen Hy is op 28.09.1883 te Quarrywoods, Knysna gebore. Later trek sy ouers na Modderhoek, tans Bracken Hill, en hy gaan op Knysna, Kruisrivier en later in Kaapstad skool. Hy begin werk as ‘n klerk en word later verteenwoordiger vir verskillende maatskappye. Hy trou op 01.04.1914 te Prince Albert met Dinah Margaretha Stockenström en uit die huwelik is twee seuns gebore. In 1921 verhuis hulle na Stellenbosch. Hier het hy hom dadelik beywer vir die stigting van ‘n Kamer van Koophandel en, ten spyte van teenstand, slaag hy daarin om in 1922 die Kamer gestig te kry. ![]() JLS Franzsen Hy was ‘n ywerige skaak- en rolbalspeler en was ook vir verskeie jare die voorsitter van die skaakklub en president van die rolbalklub, waarvan hy ‘n stigterslid was. Hy het in 1964 afgetree en het hom later in Somerset-Wes gevestig waar hy op 07.07.1970 oorlede is. Ingeborg Isabella Franzsen Sy is op 11.05.1890 te Knysna gebore as die sesde dogter van Johannes en Sarah Franzsen. Sy is in 1913 te Prins Albert met ds. Andries Stockenström in die huwelik bevestig en het saam met hom in die bediening gestaan, eers in die Paarl waar hy hulpprediker was (1914-1917), toe in Bethulie waar hy van 10.02.1917 tot Maart 1927 leraar was en daarna in Ficksburg van 9 April 1927 tot 27 Maart 1949 toe hy sy emeritaat aanvaar het. Naas die gewone pligte as pastoriemoeder het Ingeborg haar kragte gewy aan die Sending as voorsitster van die Vroue Sendingbond en aan die groot werk van die Oranje Vroue vereniging wat sy in verskeie hoedanighede gedien het. Saam met haar eggenoot het sy geweldig baie gedoen ivm kultuuraangeleenthede, jeugbewegings en die opheffing van die minderbevoorregtes. Sy was bekend vir haar warme hart vir die saak van die opvoeding, haar ope hart vir en haar gasvryheid teenoor almal. ![]() Ingeborg Franzsen met Ds Andries Stockenström Ingeborg het twee dogters gehad, Ingeborg en Euphemia en is op 29.07.1967 te Vanderbijlpark oorlede. Anna Susanna Franzsen Sy is op 11.02.1905 gebore as die oudste kind van Petrus HH en Anne S Franzsen. Sy was in 1921 die eerste leerling wat die Skool-hoër eksamen (destyds ‘n openbare eksamen) te Warden geslaag het. Daarna het sy haarself dmv korrespondensiekursusse in boekhou bekwaam en uiteindelik gevorder tot rekenmeester van die Landbou Ko-öp op Reitz. In die kerklike lewe het sy ‘n belangrike rol gespeel as sekretaresse van die Sondagskool vir 25 jaar en as sekretaresse van die Jongedogters VSB vir baie jare. Sy is op 09.08.1989 oorlede. Johanna Leonora Magdalena (Magda) Franzsen Sy is op 29.08.1908 gebore as die derde kind van Petrus HH en Anne S Franzsen. Sy was een van die ses leerlinge van Warden Hoërskool se eerste matriekklas in 1926 en het haar daarna as onderwyseres bekwaam aan die Grey Universiteitskollege te Bloemfontein en die Bloemfonteinse Normaalkollege. Sy het agtereenvolgens onderwys gegee te Harrismith, Petrus Steyn, Zastron, Ficksburg en Warden waar sy in 1966 afgetree het. Sy het in Bloemfontein sang geneem by mev Daisy Bosman en het ‘n belangrike rol gespeel in koorsang vir baie jare. Naas die koorsang was sy veral bedrywig in kerklike aktiwiteite soos Sondagskool, VSB en CSV, waar sy ongeveer 20 jaar lank verantwoordelik was vir die jaarlikse CSV-kamp by Aliwal-Noord. Op Warden het sy ook etlike jare in die swart woonbuurt gereeld klas gegee in naaldwerk en kookkuns. Sy is op 24.02.1996 oorlede. Frances Bessie Irene Franzsen Sy is op 18.09.1910 gebore as die vierde dogter van Petrus HH en Anne S Franzsen. Sy het reeds as jong dogter die roeping gevoel om ‘n sendingverpleegster te word. ’n Stelling wat sy in ‘n Engelse tydskrif gelees het, “Two men looked out from prison bars, one saw mud, the other stars”, het haar laat besluit om altyd op te kyk na die sterre! Sy kon nie na matriek plek kry by ‘n opleidingshospitaal nie en het gevolglik by ‘n verpleeginrigting in Warden begin werk waar sy baie praktiese kennis opgedoen het. Daarna het sy Algemene verpleging en Kraamverpleging in Bloemfontein gaan studeer waarvandaan sy in 1939 na die Noord Rhodesiese Sending is. Daar het sy vir 32 jaar gedien - vir lang tydperke as die enigste opgeleide persoon in mediese werk. So was sy bv alleen in bevel van ‘n 65-bed hospitaal en en by ‘n latere geleentheid ook van‘n 180-bed hospitaal met magtiging van die Direkteur van Provinsiale Mediese Dienste. Die hospitale was 146 myl uitmekaar en die paaie was nie goed nie. Die feit dat daar later geen manspersone op die sendingstasie was nie het uiteindelik ook daartoe gelei dat sy om veiligheidsredes moes onttrek en het sy na die RSA teruggekeer waar sy eers haar moeder vir twee jaar verpleeg het en na haar dood vir twaalf jaar as nagsuster by die Elize Liddel tehuis in Harrismith diens gedoen het. Sy was dus vir altesaam 55 en ‘n half jaar aktief in die verplegingsberoep! ‘n Besondere geval van gebedsverhoring wat sy vertel, moet met u gedeel word. Sy was alleen by ‘n kliniek 84 myl van die naaste dokter en sonder gereelde kommunikasie. Eendag, toe sy redelik moedeloos was, bid sy en sê vir die Here: “Waarom het U my hierheen gestuur? Ek is nie ‘n dokter nie en weet te min!” Die Here se antwoord aan haar was: “Toe Ek jou gestuur het, het ek presies geweet hoeveel en hoe min jy weet! Dit is my werk. Doen jy net jou bes en Ek sal die res doen!” Enkele dae later daag ‘n gehawende bakkie daar op om medisyne te kom haal vir twee dogters wat swartwaterkoors gehad het. Dit is ‘n komplikasie van malaria en op daardie tydstip is quinine gebruik om malaria te behandel. Frances maak toe ‘n bottel vol vloeibare quinine en stuur ook ‘n bottel met ‘n aspirin-mengsel saam, natuurlik met die nodige voorskrif op elke bottel geplak. Toe sy ‘n rukkie later huistoe gaan vir ete en ‘n kort rustydjie, neem sy ‘n boek oor tropiese siektes en lees wat dit oor swartwaterkoors sê. Daar lees sy toe: “When symptoms of blackwater fever appears, the malarial attack is already past. On no account give quinine, it only destroys more red blood cells so does no good; rather give an alcaline mixture”. Al wat sy kon doen was om te bid. Die volgende dag kom die bakkie weer daar aan met die boodskap dat een van die bottels tydens die rit geval en gebreek het! Frances sê sy het nie nodig gehad om te kyk watter bottel dit was nie. Die dogters het die alkaliese mengsel gedrink en gesond geword! Frances woon tans in Huis Davidtz in Pretoria. Salmon Herder Franzsen Hy is op 16.02.1912 te Brandrug, Farleigh, gebore as die vyfde kind van Petrus Jacobus Johannes Franzsen en Hendrina Maria Westraadt. Hy is verplig om vroeg reeds die skool te verlaat en saam met sy ouer broers ‘n heenkome te vind. Desnieteenstaande word hy in 1936 aangestel as Thesen se bestuurder te Templemanstasie, naby Diepwalle, in die Grootbos waar hy uiteindelik verantwoordelik is vir die vervoer van hout uit die bosse met vyf vragmotorbestuurders (agt vragmotors), die bestuur van ‘n winkel en ko-ordinering van vervoer van hierdie hout per trein na Knysna. Op sy versoek word hy in 1947 na die fabriek van Thesen in Knysna verplaas en begin hy in 1948 sy eie besigheid toe sy betrokkenheid by die Reddingsdaadbond probleme by sy werk veroorsaak het. In 1951 open hy ‘n droogskoonmakersbesigheid in Humansdorp waar hy ook lid word van die stadsraad. ![]() Salmon Franzsen Hy is op 20 Junie 1933 getroud met Martha Wilhelmina du Toit, gebore Terblanche en daar is ses kinders uit hulle huwelik gebore, van wie een, ‘n dogtertjie, slegs enkele dae geleef het. Hy is in 1967 van sy vrou geskei en weer getroud met Monica Nel. Hy is op 28.05.1983 te George oorlede. Frank Malan Franzsen Hy is op 29.06.1914 gebore as die oudste kind van Lars Francis Franzsen (07.10.1882) en Hester Magdalena Malan (31.12.1881). Hy word onderwyser, en gee wiskunde en wetenskap op Aliwal- Noord, Mafeking en Graaff-Reinet. Later word hy hoof van die skool te Riebeek-Wes waar hy ‘n belangrike rol speel in die Afrikaanse kultuurlewe. Hy behaal ‘n doktorsgraad in sielkunde (Studierigting Opvoedkundige Sielkunde) met as tema: Die Rol van die Affektiewe in die Opvoedingsproses met besondere verwysing na Persoonlikheidsontwikkeling, en word aangestel as professor aan UNISA. Hy is op 06.10.1945 getroud met Jacomina Adriana du Toit (16.02.1915) maar hulle het geen kinders gehad nie. Sien Die Afrikaner-familienaamboek van JH Redelinghuys. Andries Petrus Franzsen Hy is op 18.01.1917 te Calitzdorp gebore waar sy vader, Victor Peter Hildebrand Franzsen stadsklerk was. Tussen 1936-1938 bekwaam hy homself aan die Universiteit van Stellenbosch as onderwyser. Nadat hy kortstondig in Port Elizabeth en Prins Albert onderwys gegee het, verskuif hy in 1944 na Aberdeen waar hy Gertruida Sophia Smith (geb. 03.05.22) ontmoet en op 18.12.45 te Graaff Reinet met haar in die huwelik tree. In 1953 verhuis hulle na Oos-Londen, waar Andrè, nadat hy vir ‘n tydjie by Abbotsford as skoolhoof afgelos het, verder aan die Tegniese Kollege verbonde was. Trudie maak eers ‘n draai by Clarendon Hoërskool en Wilsonia Laerskool voordat sy hoof van die Kwelegha Laerskool word. In die laat sestigs keer Andrè na sy eie wêreld terug as hoof van die Schoemanshoek Laerskool. As gevolg van dalende leerlingtal verskuif hy later na Kango-Sentraal. Dit is terwyl hulle hier was, dat Andrè en Trudie betrokke was by die luisterryke 100-jarige fees van Oudtshoorn! Uit hulle huwelik is drie kinders gebore:
Andrè is ook ‘n vermaarde musiekman. In sy kinderdae op Calitzdorp het hy net vir een jaar lank musiek geneem en leer note lees. Daarna het hy ‘n viool gekoop en op sy eie begin speel. Op Stellenbosch het hy hom by prof Hans Endler aangemeld wat Andrè se stomp middelvinger (kleintyd in ‘n boormasjien se ratte beland) net ‘n kyk gegee het en gesê het: “Let’s try it”. Uit die ontmoeting het ‘n leersame en musiek-ryke verbintenis gevolg: deelname aan optredes van die Stellenbosche Konserwatorium, lid van die Oos-Londense Simfonie-orkes, oor jare heen vioolonderrig aan verskeie leerlinge. Andrè was later ook lid van die Oudtshoornse Mannekoor olv Danie Hyman. ![]() André Franzsen met Trudie Andrè en Trudie woon reeds sedert 1978 in Glentana en is gewaardeerde en getroue lidmate van die NGK Outeniqualand waar hulle hulle plek volstaan! Frithjof Johan Franzsen He was born 06.10.1917 in Observatory, Cape Town. First went to school at Claremont Public School and then, because his father was frequently transferred, he went in succession to schools in Beaufort West, Worcester, East London (Cambridge) and Cape Town (Westcliff Junior School). He matriculated in 1935 at Cape Town High School, Buitenkant Street. On 1 January 1936 he joined Mobil Oil Co and worked for them for 43 years. He went through the mill starting as a junior clerk and became a junior executive in 1949. In January 1950 he was promoted to salesman and worked in the Mossel Bay/Knysna area. In 1956 he was promoted to instructor and in 1957 to district manager, first in Port Elizabeth for three years and then in Mossel Bay for seven years. In 1969 he returned to Cape Town as retail manager for the Western Cape until his retirement in December 1978. During his career with Mobil he attended numerous technical and business management courses. His career with Mobil was interrupted during the war years. From May 1940 until end 1945 he saw Active Service wih the Duke of Edinburgh Rifles, firstly in Kenia, then in Abyssinia, continued in Egypt and Lybia. He started with the rank of staff sergeant and then as warrant officer. On returning in 1943 he was elected to go on an officer’s training course at the Military College, Voortrekkerhoogte and was commissioned as an officer at the end of 1944. From February 1945 until the end of the war he served in Italy. Upon retirement from Mobil he continued working as an accountant for a friend who owned a service station and further with another friend who ran his own business in Muizenberg. He finally retired in December 1996. On the sporting side he played cricket and hockey. At school he captained the Western Province Schools eleven and played first division cricket and Country Districts for Southern Cape. On the hockey side he represented Western Province. He was married in January 1943 to Cornelia Susanna Hartmann and remained married to her until she died in January 1991. They had two sons, Frithjof who died December 1957 and Peter Derek. On 17 June 1995 he married Yvonne van Helden. ![]() Fritjhof "Puggy" Franzsen During his school years he was an active member of the YMCA and after his first wife died he became a member of the Bergvliet Congregational Church, where, for a period he served as a deacon and also ran a Bible discussion group. He still lives in Bergvliet. Daniel Gerhardus Franzsen Hy is op 10.04.1918 gebore as die derde kind van Lars Francis Franzsen en Hester Magdalena Malan. Sy vader was ‘n boer van beroep. Hy matrikuleer in 1935 aan die Hoërskool Wellington en verwerf die besondere onderskeiding om in daardie jaar die eerste plek op die lys van Kaaplandse matrikulante te behaal. Hy sit sy studies voort aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy vervolgens die grade BA (in 1938), MA (in 1939 en DPhil. (in 1942) behaal, almal met lof. Die onderwerp van sy MA-verhandeling was: ‘n Vergelykende Studie van die Renteteorieë van Irving Fisher en John Maynard Keynes en die onderwerp van sy DPhil.-proefskrif: Die Probleem van Ekonomiese Stabilisasie. Hy doen ook nagraadse studie aan die Harvardse Universiteit en Universiteit van Chicago in die VSA. Dr Franzsen word aan die begin van 1940 as lektor in die ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch aangestel en word later bevorder tot senior lektor. Met ingang 1 Julie 1947 word hy bevorder tot professor in die ekonomie aan dieselfde universiteit. Aan die begin van 1950 aanvaar hy ‘n pos as professor in die ekonomie aan die Universiteit van Pretoria. Sy loopbaan by die universiteit is veral gekenmerk deur ‘n volgehoue program van navorsing oor die nasionale rekeninge en die groot aantal nagraadse studente wat hy inspireer om verhandelings en proefskrifte op die gebied van die nasionale rekeninge te doen. Intussen word hy met ingang 1 September 1946 ook aangestel as ‘n deeltydse konsultant van die Departement Ekonomiese Navorsing en Statistiek van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, ‘n pos wat hom nie alleen in noue kontak met die Bank gebring het nie, maar wat ook meegebring het dat hy ‘n groot bydrae gemaak het tot die Bank se kwartaalblad in die vorm van gereelde artikels oor die nasionale rekeninge. Hierdie aanstelling het regstreeks verband gehou met die stigting van die Verenigde Volke Organisasie en die Internasionale Monetêre Fonds en die behoefte om aan hierdie instellings gesaghebbende ekonomiese statistiek te verskaf. Hy het ook van 1950 tot 1958 opgetree as die Suid-Afrikaanse medewerker van die International Association for Research in Income and Wealth. Sy bande met die Reserwebank word verder verstewig toe hy met ingang 1 Augustus 1958 as ‘n regeringsverteenwoordiger op die Bank se Raad van Direkteure aangestel word. Met ingang 1 Julie 1961 word hy aangestel as Vise-President van die Bank en lê hy sy professoraat aan die Universiteit van Pretoria neer. Op 1 Julie 1971 word hy aangestel as die Reserwebank se eerste Senior Vise-President, ‘n pos wat hy beklee tot sy uittrede aan die einde van Junie 1976. Hy keer terug na Stellenbosch waar hy tot aan die einde van 1983 ‘n leerstoel in die ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch beklee. Daarnà tree hy nog tot aan die einde van 1988 op as tydelike dosent by hierdie universiteit. Afgesien van sy vaste aanstellings by die genoemde twee universiteite was hy ook geruime tyd as Ere-Professor aan albei inrigtings verbonde. Vanaf 1961 tot 1988 was dr Franzsen ook ‘n lid van die Staatskuldkommissie en vanaf 1976 tot 1992 ook ‘n spesiale raadgewer van die Departement van Finansies. So vroeg as 1948 word dr Franzsen en dr TW de Jongh, destyds die Bank se statistikus, deur die regering aangestel as lede van ‘n komitee van deskundiges om die beskikbare gegewens aangaande die Unie van Suid-Afrika se nasionale rekeninge te koördineer. Hierdie eerste betrokkenheid by ‘n owerheidsondersoek sou later gevolg word deur talle ander. Sedert die laat sestigerjare het dr Franzsen op ‘n aantal belangrike kommissies en komitees gedien, in die meeste gevalle as voorsitter. Die belangrikste hiervan was die Kommissie van Ondersoek na die Fiskale en Monetêre Beleid in Suid-Afrika, wat in die daaglikse omgang bekend geword het as die “Franzsen- kommissie”. Hierdie kommissie se ondersoek het gestrek oor die periode 1967 tot 1970 en die verslag en aanbevelings van die kommissie is in drie volumes gepubliseer. Die inwerkingstelling van die kommissie se aanbevelings het gelei tot aansienlike veranderings, veral in die owerheid se fiskale beleid. Ander ondersoeke waarby dr Franzsen betrokke was, is die volgende: As voorsitter:
Verder was hy ook as lid betrokke by die:
Na hierdie kommissietydperk in sy lewe is verwys in die voorstellingsrede toe die Universiteit van Suid-Afrika hom vereer het met die toekenning van ‘n ere-doktoraat. By hierdie geleentheid is daar van hom gesê: “Gedurende die afgelope twee dekades het hy hom met kenmerkende oorgawe op verskillende aspekte van die owerheidsfinansies toegespits. In dié proses het sy buitengewone ywer en energie dikwels hoë eise gestel aan sy kollegas en ander met wie hy saamgewerk het, maar sy opregte belangstelling in sy medemens het verseker dat hy altyd as vriend of vaderfiguur beskou is”. Ten spyte van sy gewoonlik oorvol program het hy ook tyd ingeruim om aan bedrywighede van professionele liggame deel te neem en in die breëre gemeenskap tot diens te wees. Hy was vir baie jare ten nouste betrokke by die werksaamhede van die Ekonomiese Vereniging van Suid-Afrika en in 1966/67 het hy as President van hierdie vereniging gedien. Hy is sedert 1955 ook ‘n lid van die Fakulteit Kuns en Geesteswetenskappe van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Ook op kerklike gebied is hy meelewend. Wat publikasies betref het hy eweneens ‘n indrukwekkende rekord. Nie alleen het hy saam met prof CGW Schumann in 1944 die eerste Ekonomie-handboek in Afrikaans (Inleiding tot die Ekonomie) die lig laat sien nie, maar hy is ook die outeur van ‘n groot aantal ander boeke, vaktydskrifartikels en bydraes tot versamelwerke. ![]() Dr D.G. Franzsen Dr Franzsen het by verskillende geleenthede ere-toekennings ontvang vir sy uitstaande prestasies. In 1960 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Havenga-prys vir Ekonomie aan hom toegeken op grond van sy navorsingspublikasies en die bevordering van Afrikaans op sy vakgebied. In 1989 het die Universiteit van Suid-Afrika hom vereer met die toekenning van die D Com. (honoris causa) vir sy bydraes “as ekonoom, beleidsadviseur en universiteitsmens”. In 1992 is hy deur die Staatspresident vereer met die Orde vir Voortreflike Diens (Goud). Na sy aftrede by die Bank het hy geruime tyd as direkteur van die Suid-Afrikaanse Yster en Staal Industriële Korporasie (Yskor) gedien. Dr Franzsen is op 25 Junie 1947 met Catherina Susanna Theron in die huwelik bevestig en uit die huwelik is twee seuns en een dogter gebore. (CV opgestel deur die bibliotekaris van die Reserwebank). Andrè Franzsen Andrè Franzsen is op 03 12 1920 te Kaapstad gebore as die tweede seun van Johannes Leonard Scholtz Franzsen en Dinah Margaretha Stockenström. Hy matrikuleer in 1936 aan die Paul Roos Gimnasium waarna hy aan die Universiteit van Stellenbosch die BSc-graad in 1940, MSc in 1941 en SOD in 1942 behaal. Hy gee onderwys vir twee jaar in Goudini en Durbanville en behaal in 1947 die BSc Landmeetkunde aan die Universiteit van Kaapstad. Hy werk aanvanklik as landmeter op Stellenbosch en daarna by EVKOM in Johannesburg. Hy keer vir ‘n kort wyle terug na die onderwys voordat hy as landmeter registreer by die Sentrale Raad van Landmeters in Julie 1954. In Oktober 1954 word hy in die kantoor van die Landmeter-Generaal, Windhoek aangestel. Hy vorder tot Assistent Landmeter-Generaal totdat hy in 1981 uit diens tree om na die Strand te verhuis. Na ‘n kort onderbreking keer hy terug tot sy gekose professie en wel in die kantoor van die Direkteur-Generaal van Opmetings in Mowbray en later die kantoor van die Landmeter-Generaal in Kaapstad tot met sy finale aftrede. Hy was ‘n ywerige sportman en het eerste liga krieket gespeel in Johannesburg sowel as Windhoek en dien later as skeidsregter en keurder in die destydse SWA. Tydens sy dienstermyn in SWA was hy ook lid van die Monumentekommissie, lid van die bestuur van die Instituut van Landmeters en sekretaris en lid van die Rotariërklub van Windhoek. ![]() André Franzsen Hy is op 31 Januarie 1953 met Margaretha Petronella Breitenbach van Cradock getroud en vier kinders is uit die huwelik gebore. Hy is op 04.09.1996 in die Strand oorlede. Carl Frederick Franzsen Hy is op 12 02.1921 te Rondebosch, Kaap, gebore as tweede seun van Frithjof Franzsen en Petronella Odendal. Hy matrikuleer aan die Hoërskool, Kaapstad, en ontvang mediese opleiding aan die Mediese Skool, Universiteit Kaapstad, waar hy in 1946 die graad M.B.Ch.B behaal. In 1947 is hy mediese beampte (Intern) by Oudtshoorn Hospitaal waarna hy ‘n privaat praktyk te Robertson bedryf van 1948 tot 1951. Van 1952 tot 1959 is hy verbonde aan die Staatsgesondheidsdiens te Worcester (Brewellskloof Afsonderingshospitaal en Munisipale en Agdelingsraad gesondheidsdienste). Van 1960 tot 1984 is hy aan die Kaapse Provinsiale Hospitaaldiens verbonde; eers as assistent superintendent by Frere Hospitaal, Oos Londen, daarna as superintendent van die Provinsiale Hospitaal op George en toe as Senior Mediese Beampte, Provinsiale Hospitaal, Oudtshoorn. Hy tree in 1984 uit as gevolg van ‘n oorerflike gehoorprobleem. ![]() Dr C.F. Franzsen Hy het in 1948 met Olga Haiek van Mosselbaai in die huwelik getree maar hulle het geen kinders gehad nie. Sy is in 1983 oorlede waarna hy weer getroud is met Judith Steenberg. Hy het een stiefdogter, Susan. Hulle het op Montagu afgetree. Petrus Jacobus Johannes Franzsen Hy is op 15 September 1933 te Rheenendal gebore as die oudste van Salmon Herder en Martha Wilhelmina se kinders. Hy matrikuleer (1949) aan die Hoërskool, Knysna, pas na sy sestiende verjaardag en gaan studeer BA-Admissie aan die UOVS. Gedurende sy derde jaar aan die UOVS tree hy op as nagverslaggewer by Die Volksblad en beland hy en die fotograaf, Tony Adendorff in ‘n motorongeluk tydens eksamentyd. Dit het tot gevolg dat hy eers in 1953 sy BA-graad behaal. Gedurende 1954 tree hy in diens by die Landmeter-Generaal se kantoor in Bloemfontein (Feb 1954-Julie1954) en as assistent vir Dr EC Slipher, wêreldberoemde deskundige oor Mars, tydens die National Geographic Society se Mars-ekspedisie by die Lamont Hussey Sterrewag te Bloemfontein (April 1954-November 1954) terwyl hy terselfdertyd inskryf vir MA Deel 1 in Staatsleer aan die UOVS (Sien The National Geographic Magazine, September 1955). In 1955 skryf hy by die Sending- instituut, Wellington in om hom as sendeling te bekwaam en nadat hy die vierjarige kursus in Teologie met sukses voltooi het, word hy op 26 November 1958 as sendeling in die NGK toegelaat. Hy is die eerste predikant onder die Franzsens en bedien agtereenvolgens die gemeentes Nuwerus en Riebeek- Kasteel van die NG Sendingkerk en Fynnland (Durban) en Keetmanshoop van die NGK voordat hy in 1976 kapelaan in die SA Vloot word. Benewens kapelaan in die SA Vloot is hy ook leraar van die NG Gemeente, Simonstad. Hy word op 29 Februarie 1980 aangestel as Kommandementskapelaan in die SA Vloot en in Augustus 1987 as Direkteur van die Kapelaansdiens in die Vloot met die rang van Vlootkaptein. Op 1 Mei 1989 word hy aangestel as Direkteur Personeel by die Kapelaan-generaal se hoofkwartier met die rang van Kommodoor (die eerste Vloot-kapelaan wat die rang verwerf). Op 1 Desember 1990 word hy aangestel as Direkteur Bediening in die SA Kapelaansdiens. Hy neem verskeie kere waar as Kapelaan-generaal voor sy aftrede aan die einde van September 1993. Gedurende hierdie tydperk is hy kerklik verbonde aan die NG Gemeente Magaliesfort in Pretoria. Tydens sy loopbaan as kapelaan voltooi hy met sukses verskillende kursusse in die SAW. So was hy oa die eerste kapelaan wat ‘n volledige offisierskursus in die SA Vloot voltooi en word hy bowendien as die beste student op die kursus bekroon! Hy het as kapelaan diens gedoen op haas elke Vlootskip: Mynveërs, mynjagters, voorraadskepe, aanvals-vaartuie en fregatte. Hy is ook in 1984 en weer in 1986 na London gestuur om die Ambassade-personeel te bearbei en sy verslag lei daartoe dat daar in 1987 ‘n permanente leraarspos in London geskep word. Hy dien ook in verskeie kultuurliggame, oa as voorsitter van Rapportryerskorpse in Riebeek-Kasteel, Durban, Keetmanshoop en Vishoek en ook as voorsitter van FAK Kultuurrade in Durban, Keetmanshoop en Vishoek. Hy neem ook leiding in die daarstel van ‘n Gemeenskapskool te Simonstad waar voorsiening gemaak word vir ‘n Bewaarskool, ‘n Pre-primêre skool en ‘n naskoolse sentrum en dien verskeie jare as voorsitter van die beheerraad. Hy het vir baie jare lank uitsaaidienste oor die radio en TV behartig, onder andere die roudiens (oor TV) vir die sestien Vlootlede wat in die President Kruger-ramp omgekom het asook die Nasionale Dias-feesdiens oor TV vanuit Mosselbaai op 31 Januarie 1988 saam met die Tygerberg Kinderkoor. Wat sport betref het hy provinsiale kleure verwerf in hokkie (Boland) en ook deelgeneem aan rugby, tennis en skiboothengel. Hy was verskeie jare lank voorsitter van die SA Weermag se Skiboothengelklub. Daarby het hy hom ook besig gehou met muntversameling, hout- en metaalwerk. Gedurende sy loopbaan het hy op verskillende kerklike en SA Weermagkommissies gedien, onder andere as lid en voorsitter van die Sinodale Regskommissie in die NG Sendingkerk, die NGK in SWA (nou Namibië) en die NGK in SA (Wes-Kaapland); lid van die Kommissie vir Leer en Aktuele Sake (NGK, Wes-Kaapland) en lid van die Afrikaanse Lektuurkommissie van die SAW (1977-1989). Hy het, benewens artikels en preke in koerante en tydskrifte. die geskiedenis van die Ned. Geref. Kerk, Keetmanshoop, gepubliseer. Hy was ook verantwoordelik vir die daarstel van ‘n Afrikaanse weergawe van die “Seaman’s Hymn” saam met prof. MM Walters. Die volgende militêre medaljes is aan hom toegeken:
![]() P.J.J. Franzsen Hy is in 1957 getroud met Loretta Scholtz van Mosselbaai, ‘n maatskaplike werkster, en uit hulle huwelik is twee kinders gebore: Gustav wat ook ‘n vlootoffisier geword het en Ingrid wat in die talent van haar groot-oupagrootjie gedeel het en ‘n skilder geword het! (CV opgestel deur Kantoor van die Kapelaan-generaal, 1993) Petrus Jacobus Johannes Franzsen (Johan) Hy is op 12.08.1936 te Knysna gebore as die oudste seun van Ernistinus en Martha Franzsen. Hy matrikuleer te Knysna in 1953 en behaal in 1956 die Onderwysdiploma na studies te Oudtshoorn- en Paarl Onderwyskolleges. In 1966 behaal hy die B Comm-graad deur Unisa. Na dertien jaar as onderwyser te Viljoenskroon, word hy as Inspekteur van Tegniese Onderwys in die OVS aangestel. By sy aftrede in 1992 beklee hy die pos van Supt van Onderwys. Publikasies wat uit sy hand verskyn het is:
Op sportgebied het hy gepresteer in pluimbal (Noord-Vrystaat en Vrystaat) en in rugby (Vrystaat B-span). Hy was ook vir baie jare afrigter van Kadetorkeste, en kadette en was ook Kapelmeester. Hy was eers getroud met Andrina van Rensburg en is tans getroud met Carol June Schoeman en drie kinders is uit elke huwelik gebore (vier dogters en twee seuns). Hendrik Engenatius Franzsen Hy is op 19.08.1937 te Knysna gebore as tweede seun van Salmon en Martha Franzsen. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Humansdorp , in 1953 waarna hy (deels deeltyds) aan die UOVS studeer en in 1957 die BA-graad met hoofvakke Geskiedenis (onderskeiding) en Filosofie behaal. In 1958 verwerf hy die LPOD aan die Bloemfonteinse Onderwyskollege en word onderwyser in die primêre afdeling van Petrusburg Hoërskool. In 1961 word hy sekondêre assistent te Reddersburg en in dieselfde jaar senior sekondêre assistent te Kirkwood. Hy word in 1966 vise-Hoof te Sondagsrivier Sekondêre Skool en in 1967 Hoof van die Herbertsdale Middelbare Skool. Daarna is hy agtereenvolgens hoof van die Hoërskool, De Doorns (1970-1973), DF Malherbe, Port Elizabeth (1973-1977) en DF Malan, Bellville (1978- 1986) voordat hy aangestel word as Superintendent van Onderwys (Opvoedkundige Leiding) te Port Elizabeth. ![]() H.E. Franzsen In 1994 word hy na Bisho gesekondeer om aan onderwyswetgewing te werk en word in 1995 aangestel as Adjunk Permanente Sekretaris (Standaard Onderwys) in die Provinsie Oos-Kaap. Voor sy aftrede in 1998 neem hy waar as Permanente Sekretaris. Hy was van vroeg in sy loopbaan betrokke by die SAOU en was vir baie jare lid van die SAOU se Hoofbestuur (1977-1986) en dien ook as lid van die Dagbestuur en die Uitvoerende Komitee (1981-1986) en as ondervoorsitter (1983) en voorsitter (1984). Hy was ook lid van die Gesamentlike Raad van die SAOU en SATA (1978-1986) en van die Federale Raad van Onderwysverenigings in die RSA (1983-1986). Daarby dien hy op verskeie sub-komitees ivm onderwys en nasionale loodskomitees oor Onderwys in die nuwe bedeling. Hy maak ook verskeie oorsese besoeke ivm Onderwysaangeleenthede mee, oa na Brittanje en Wes-Europa oor Komprehensiewe skole en die Inspektoraat in 1978; na VSA en Kanada oor Ouerbetrokkenheid, Onderwysfinansiering, Bestuurstrukture, Evaluering van leerkragte en Onderrigleiding in 1984; na Taiwan en Japan oor privaatskole, bestuur van inrigtings, beroepsonderwys en -bestuur in 1991; na Duitsland oor beroepsonderwys en onderwysbestuur in 1996 en na Denemarke, Swede en Duitsland oor Jeugskole en eksamens in 1997. Op kultuurgebied was hy ewe bedrywig, oa as kerkraadslid en Sondagskool-onderhoof, lid van die Afrikaanse Skakelkomitee in Port Elizabeth en Bellville, voorsitter van Rapportryerskorpse in PE en Bellville, voorsitter van SWD se Koorvereniging en lid van Kruik se streekkomitee. Hy het provinsiale kleure in rugby verwerf en was ook aktief betrokke by atletiek, veral langafstand. Hy is twee keer getroud, beide kere met ‘n onderwyseres, en is vader van vier kinders: drie dogters van wie twee onderwyseresse geword het en die ander ‘n maatskaplike werkster asook ‘n seun wat die regsberoep gekies het. |